Tuesday, March 21, 2006

Keurboslaan

Ek wend 'n poging aan om dié 'klassieke' Afrikaanse jeugboekreeks deur te werk. Tans lees ek "Die Kroon van Keurboslaan", die vierde boek in die reeks. Vir diegene wat nie met Keurboslaan bekend is nie, dit wentel om die lewe by 'n kosskool vir seuns iewers in die noorde van die land. Naby Swaziland, om presies te wees, aangesien die hoof, sy sekretaresse, sy niggie en een van die seuns in die skool pas deur die sogenaamde "Swazies" gevange geneem is nadat genoemde "Swazies" hulself onder meer vergryp het aan dagga. Daar word geïmpliseer dat die gevangenes doodgemaak en geëet gaan word, maar net betyds is daar 'n dramatiese ontsnapping te perd. WAT DE FOK! Nie cool nie! Bygesê, ek lees die omnibus-weergawe waarvan die teks onveranderd gebly het sedert dit in die 1930's vir die eerste keer verskyn het. Maar steeds. Moeilik om jouself nou in te dink dat dit ooit aanvaarbaar was om so iets te skryf.

Dan is daar ook die hoof, dr Serfontein. Hy is veronderstel om een van die groot helde van die Afrikaanse kinderboekwêreld te wees. Vir my kom hy oor soos 'n emosioneel gebrekkige kettingroker wat sy anti-sosiale gedrag probeer verskoon deur weg te kruip agter die supposedly hoogs literêre boeke wat hy skryf in sy vrye tyd. Hy het 'n liefdesteleurstelling beleef met 'n Russiese sopraan, maar trou later met die sekretaresse na wie hier bo verwys word (sy is die "kroon" van Keurboslaan). Hulle maak ook etlike kindertjies, wat ter sprake kom in die titel van die sesde boek, "Die Serfontein-kinders".

Dalk is die oorsaak van my probleem die kunstenaarsvoorstelling van die goeie doktor op die voorkant van die boeke, waar hy geweldig baie soos 'n meer smerige weergawe van Johann Lodewyk Marais lyk.

3 comments:

Anonymous said...

Marissa. Ek stem baie saam met wat jy skryf oor die reeks, maar ek wonder soms of mens tekste uit hulle konteks en tyd moet probeer beskou. Ek het gister in Delhi die versamelaarsuitgawe van Tintin (Kuifie) in die Kongo gekoop. My vriende se dis nie in SA beskikbaar nie. In die boek word swartmense uit 'n koloniale beskouing geskets en in vandag se perspektief is dit uiters rassisties. Die uitgewers verduidelik die konteks voor in die boek, maar regverdig die publikasie daarvan omdat enige versameling onvolledig sou wees daarsonder. (Terloop boeke is spot goedkoop hier. Kyfieboeke kos so R35!

Marissa said...

Toegegee, 'n mens behoort die konteks van tekste in ag neem. Dit was net vir my op daardie oomblik vreemd om te dink dat daar ooit 'n konteks of tyd was waarin dié tipe ding aanvaarbaar was.

Oor die Kuifie-boeke: R35! Ongelooflik. 'n Plek met spotgoedkoop boeke klink vir my na 'n paradyslike plek.

Anonymous said...

Marissa: Dit is paradyslik, maar die kontraste is heavy erg. Ek is vanaand in Mumbai. Bly in 'n 5 ster hotel wat beter is as die beste van Suid-Afrika, maar as ek by my venster uitkyk sien ek duisende plakkershutte ...