Wednesday, August 30, 2006

Top 5 boeke wat ek weer vir die eerste keer wil lees

Nog 'n Top 5 lys, hierdie keer van boeke wat ek weer vir die eerste keer wil lees. Nie noodwendig my Top 5 gunsteling-boeke nie, maar 'n paar wat 'n geweldige impak op my gemaak het met die eerste lees – 'n impak wat nie altyd met verdere lees herhaal word nie.

Komas uit 'n bamboesstok - DJ Opperman. My gunsteling-digter, veral as gevolg van hierdie bundel. Die eerste lees het my laat voel asof 'n gordyn in my kop weggeskuif word en ek skielik anders na álles kyk.

Little Women - Louisa May Alcott. Hierdie was eens vir my die toppunt van alles wat 'n boek moet wees. Liefde, grootword, tragedie, sosiale kommentaar, ensovoorts. Ek pink wel nog steeds 'n traan weg wanneer Beth heengaan.

Triomf – Marlene van Niekerk. Seker die boek wat my die langste bygebly het ná die lees daarvan. Het dit so drie of vier jaar gelede gelees, en ek voel nog steeds nie reg om dit selfs net weer oop te slaan nie, wat nog te sê herlees.

Cloud Atlas - David Mitchell. Die opgewondenheid waarmee ek deur hierdie boek gehaas het om die tweede gedeeltes van die verhaallyne te lees en die verbande tussen die stories raak te sien, sal seker nie weer geëwenaar word nie.

Die Hartseerwals - Hennie Aucamp. Die eerste kortverhale wat ek werklik geniet het. Ander kortverhale word nog steeds hierteen gemeet en skiet meestal te kort. Magies, betowerend.

Top 5 (of eerder Top 10) gaste vir ete

Nadat ek weer deur High Fidelity geblaai het op soek na die aanhaling in een van die onderstaande posts, het ek besluit om tog mee te doen aan Arcadia se Top 5-week van ’n rukkie gelede. Hier, dus, my Top 5 gaste om vir ete te nooi (tyd speel nie hier ’n rol nie, en die lys sluit nie mense in wat ek ken nie). Of eerder my Top 10, aangesien daar meer as 5 mense is wat ek wil nooi.

Eerstens: die musiek sal verskaf word deur die Buckfever Underground.
Dan, tafel #1 (die skrywerstafel):
– Douglas Coupland (dink hy sal interessante stories kan vertel)
– David Mitchell (ditto)
– Dave Eggers (ditto)
– Wilma Stockenström (weet nie van die stories nie, maar haar skryfwerk is ongelooflik en ek wil haar graag ontmoet)
– Jane Austen (haar rol is om bedrieglik delikaat te lyk en fyn die spot te dryf met die ander gaste)

Tafel #2:
– Emsie Schoeman (haar hare sal regop staan as gevolg van die ander gaste se verbreking van alle etiket-reëls)
– Gert Vlok Nel (hy sal melankolies wees, gedigte voordra en later saam met Buckfever gaan jam)
– John Lennon (hy sal diepklinkende uitsprake maak, vir die gaste prentjies op hul servette teken en later saam met Buckfever en Gert gaan jam)
– John Cleese (lyk of hy oor die algemeen interessante geselskap kan wees)
– Anne Frank (sal haar net graag wil ontmoet, aangesien haar verhaal my al van kleins af fassineer)

Los gedagtes

’n Paar uittreksels uit literêre werke, en ’n opsomming van my gevoel oor sekere goed, deesdae.

Die akademie, soos wat dit moet wees en nie moet wees nie:

“Die klasse is vir haar baie saai, nêrens is daar die prikkel nie – soos sy haar dit voorgestel het – wat jou opgewonde biblioteek toe laat haas, soekend, met die flentertjie kennis in jou hand, soos Ariadne in die Minotaurus se doolhof, soekend na meer, nog meer, deur die donker gange om by die lig uit te kom.”
– Elsa Joubert
’n Wonderlike geweld

Die toekoms:

“ ‘I’m going to turn this town upside-down,’ I said.* ‘Then in the Fall I have to become a responsible adult.’ ”
– Michael Chabon
The Mysteries of Pittsburgh

Die uitslae van die SR-verkiesing:

“ ‘Oh. Oh well. Never mind.’ Dick would never go so far as to tell Barry that he’s messed up, but the implication is clear.
‘What?’ says Barry, bristling.
‘Nothing.’
‘No, come on. What’s wrong with the Righteous Brothers?’
‘Nothing. I just prefer the other one,’ says Dick mildly.
‘Bollocks.’
‘How can it be bollocks to state a preference?’ I ask.
‘If it’s the wrong preference, it’s bollocks.’ ”
– Nick Hornby
High Fidelity

* In my geval, vervang “turn this town upside-down” met “maak my tesis klaar, lees baie boeke en slaap die res van die tyd”.

Thursday, August 10, 2006

Saterdagaand

Op pad na D se woonstel stap ek oor die parkeerarea voor Admin A. Daar, onder die bome, effens verlig deur die nabye straatligte, is ’n meisie en man besig om te dans. Geen musiek en niemand naby nie. Hy hou haar vas soos die kosbaarste ding in die wêreld, en sy vir hom. Nie een van hulle sien my raak nie – vir hulle bestaan op daardie oomblik niks anders nie.