Wednesday, August 30, 2006

Top 5 boeke wat ek weer vir die eerste keer wil lees

Nog 'n Top 5 lys, hierdie keer van boeke wat ek weer vir die eerste keer wil lees. Nie noodwendig my Top 5 gunsteling-boeke nie, maar 'n paar wat 'n geweldige impak op my gemaak het met die eerste lees – 'n impak wat nie altyd met verdere lees herhaal word nie.

Komas uit 'n bamboesstok - DJ Opperman. My gunsteling-digter, veral as gevolg van hierdie bundel. Die eerste lees het my laat voel asof 'n gordyn in my kop weggeskuif word en ek skielik anders na álles kyk.

Little Women - Louisa May Alcott. Hierdie was eens vir my die toppunt van alles wat 'n boek moet wees. Liefde, grootword, tragedie, sosiale kommentaar, ensovoorts. Ek pink wel nog steeds 'n traan weg wanneer Beth heengaan.

Triomf – Marlene van Niekerk. Seker die boek wat my die langste bygebly het ná die lees daarvan. Het dit so drie of vier jaar gelede gelees, en ek voel nog steeds nie reg om dit selfs net weer oop te slaan nie, wat nog te sê herlees.

Cloud Atlas - David Mitchell. Die opgewondenheid waarmee ek deur hierdie boek gehaas het om die tweede gedeeltes van die verhaallyne te lees en die verbande tussen die stories raak te sien, sal seker nie weer geëwenaar word nie.

Die Hartseerwals - Hennie Aucamp. Die eerste kortverhale wat ek werklik geniet het. Ander kortverhale word nog steeds hierteen gemeet en skiet meestal te kort. Magies, betowerend.

6 comments:

gm said...

Fantastiese idee en post!

Ek stem saam oor die Opperman. Ek het dit gelees net na Louw se Tristia, en beskou daai twee nog as die top Afrikaanse digbundels.

Ek het 'n hele klompie boeke wat ek weer vir die eerste keer wil lees.

Annelie Maré said...

Onthou jy toe Joey Little Women gelees het? :-)

Marissa said...

gm: Dankie, maar ek moet erken dat die idee nie 100% oorspronklik is nie. Die vrou van 50 Books het 'n tyd gelede geskryf oor 'n boek wat sy weer vir die eerste keer wil lees, so ek het die idee toegepas op 'n Top 5 lysie.

Annelie: Ja.

Liz said...

I'm not sure I agree really. I think that everytime you read or reread a book you're in a new place, and you read with a different eye. That's what makes books special.

Marissa said...

Yes, but with some books it's Just Never Exactly The Same.

gm said...

Nee, 'n boek verander saam met jou, en bly spesiaal, word beter of word deel van jou verlede.

Maar ons almal onthou die eerste keer... ;-)