Wednesday, August 30, 2006

Top 5 (of eerder Top 10) gaste vir ete

Nadat ek weer deur High Fidelity geblaai het op soek na die aanhaling in een van die onderstaande posts, het ek besluit om tog mee te doen aan Arcadia se Top 5-week van ’n rukkie gelede. Hier, dus, my Top 5 gaste om vir ete te nooi (tyd speel nie hier ’n rol nie, en die lys sluit nie mense in wat ek ken nie). Of eerder my Top 10, aangesien daar meer as 5 mense is wat ek wil nooi.

Eerstens: die musiek sal verskaf word deur die Buckfever Underground.
Dan, tafel #1 (die skrywerstafel):
– Douglas Coupland (dink hy sal interessante stories kan vertel)
– David Mitchell (ditto)
– Dave Eggers (ditto)
– Wilma Stockenström (weet nie van die stories nie, maar haar skryfwerk is ongelooflik en ek wil haar graag ontmoet)
– Jane Austen (haar rol is om bedrieglik delikaat te lyk en fyn die spot te dryf met die ander gaste)

Tafel #2:
– Emsie Schoeman (haar hare sal regop staan as gevolg van die ander gaste se verbreking van alle etiket-reëls)
– Gert Vlok Nel (hy sal melankolies wees, gedigte voordra en later saam met Buckfever gaan jam)
– John Lennon (hy sal diepklinkende uitsprake maak, vir die gaste prentjies op hul servette teken en later saam met Buckfever en Gert gaan jam)
– John Cleese (lyk of hy oor die algemeen interessante geselskap kan wees)
– Anne Frank (sal haar net graag wil ontmoet, aangesien haar verhaal my al van kleins af fassineer)

5 comments:

arcadia said...

douglas coupland, toast coetzer en gert vlok nel almal in dieselfde vertrek...

wat moet ek aanvang om by hierdie party te wees?

Do Kwang said...

"diepklinkende"?

Marissa said...

Do Kwang: "Diepklinkende" = poging om te sê dat dit diep klink, maar dit mag dalk nie wees nie. Hy sal waarskynlik net besig wees om almal se been te trek.

Marissa said...
This comment has been removed by a blog administrator.
Do Kwang said...

Hmn, ek het biejie meer oor die styl geworry as die betekenis. Dit herinner my bietjie te veel aan Marzanne le Roux-van der Boon se Granate broei in Jerusalem waar sy na brood met suurdeeg verwys as "suurdeegbevattende brood".
(Spel ek nou suurdeeg hoegenaamd reg?)