Tuesday, September 12, 2006

Die heilige bolla

Annelie skryf hier oor haar close encounter met Ferial Haffajee. Dit het my laat terugdink aan die gesprek wat ons (ek en Annelie, nie ek en Ferial Haffajee nie) 'n rukkie gelede gehad het oor mense vir wie ons 'n gevoel van childlike hero-worship koester. Hare: me Haffajee en Max du Preez. Myne: Tom Eaton, The Buckfever Underground en Antjie Krog. Ná hierdie gesprek het ek aan nog 'n paar ander mense gedink wat by die lysie gevoeg kon word. Soos Wilma Stockenström, byvoorbeeld.
Saterdagaand was ek en Loftus by die Versindaba in die HB Thom-teater. Wilma Stockenström sit toe 'n paar rye voor ons. Loftus staar die heeltyd na haar agterkop, en sê goed soos: "Ek wil aan die heilige bolla vat" en "Kan ek voor haar gaan kniel en aan haar roksoom raak?". Terwyl ons tydens die pouse in die foyer sit, spring L skielik op, koop 'n kopie van haar boek Monsterverse en gaan vra haar om dit te teken. Toe volg ek maar sy voorbeeld met 'n kopie van Van vergetelheid en van glans. Ek het gebloos en kon skaars een samehangende sin uitkry toe ek met haar praat. Om sake te vererger, staan een van my Afrikaanse dosente (wat vir WS goed ken) daar naby en stel my voor aan WS as "Marissa, een van ons knapste honneursstudente". Voor ek kon dink, kom die woorde "Haai nee, dr Foster, nou laat doktor my bloos" by my mond uit. Toe giggel dr F en vra hoe dit verder gaan. WS staan net daar en kyk my so op en af.
Die res van die aand het Loftus sy boek op sy skoot vasgehou en kort-kort saggies oor die buiteblad gestreel.

2 comments:

Appel said...

Ek hou skielik baie minder van doktor Fossie.

Ek het so hero-worship gevoel oor Johan Degenaar. Ek wou so graag met die oom praat maar toe kom staan daar 'n tannie wat vir my skoolgegee het en vir prof Degenaar ken. Sy vertel toe vir hom ek sing in die US Koor en skielik het hy my ook net so aangekyk soos wat Wilma vir jou bekyk het. Fok.

Lammervanger said...

Vandat ek kleintyd besef het dat mens nie regtig 'n loopbaan as 'n ghostbuster kan aanpak nie, het ek besluit om nie meer helde te hê nie. Ek besluit toe dat dit belaglik is en dat mens helde moet hê en kies vir Hansie as veilige keuse...en kyk toe!!!